mobirise.com

Reëls en Regulasies

Ons missie is om ‘n veilige en kindervriendelike omgewing te skep vir alle kinders om sodoende leer te bevorder sowel as om te kan speel en te ontspan. Ons wil ‘n positiewe en opbouende atmosfeer skep. Die doel van elke handeling is aanmoediging, motivering en erkenning.



Voornemende ouers wat hulle kinders by CP Naskool Akademie wil inskryf, moet ‘n Registrasievorm voltooi. Registrasievorms moet vergesel word met die getekende Reëls en Regulasies en Vrywaringsvorm. ‘n Afskrif van die ouers/voog se identiteitsdokumente moet aangeheg word. Alle vorms is by die administratiewe kantoor of op ons webblad beskikbaar. Getekende vorms moet by die administratiewe kantoor ingehandig word. Inskrywingsvorms moet jaarliks hernu word om u kind se plek vir die volgende jaar in die Naskool te bespreek. 

 

Leerders sal direk na skool deur ‘n verantwoordelike persoon by Laerskool Constantiapark ontvang en begelei word na die naskoolsentrum. Daar word van elke kind verwag om ordelik te wag en sy samewerking te gee as daar persensie geneem word. Kinders mag onder geen omstandighede eers na skool snoepie toe gaan nie. Daar word van elke kind verwag om so gou moontlik na die afhaalpunt te gaan. Kinders moet te alle tye die verkeersreëls gehoorsaam en die instruksies van die personeellid volg as hulle van of na die skool beweeg. 

 

Dissipline en goeie maniere is van kardinale belang. Ouers se positiewe gesindheid, aanmoediging en ondersteuning is belangrik. 

 

Om die naskool doeltreffend te laat funksioneer is die volgende reëls van toepassing:



RESPEK:


  1. Toon wedersydse respek teenoor maats, opvoeders, personeel en die naskool se eiendom.
  2. Alle naskool personeel se aanspreekvorm is "Juffrou".  Respek moet te alle tye teenoor alle personeel betoon word (dit sluit die sekuriteitswag en hulppersoneel in).
  3. Oortredings, steuring of ander handeling wat die dissipline by die naskool ondermyn sal dadelik aandag kry. Leerders sal nie toegelaat word om handgemeen te raak nie. Vuiltaal en vuilgrappies is onaanvaarbaar. Boelies sal nie geduld word nie. CP Naskool Akademie behou die reg om ‘n leerder na drie skriftelike waarskuwings toegang tot die naskool te weier. In so ‘n geval is die naskool fooie nie terugbetaalbaar nie.
  4. Geen pornografiese of ongewenste materiaal of enige afhanklikvormende middels sal op die terrein toegelaat word nie. In so ‘n geval sal die leerder gevra word om CP Naskool Akademie onmiddellik te verlaat. Naskool fooie is nie terugbetaalbaar nie.
  5. Indien ‘n leerling enige skade aan die geboue of klaskamers van die skool sou aanrig, sal die betrokke leerling se ouers verantwoordelikheid aanvaar vir die skade en die regmaak daarvan.


HUISWERK:


Ons poog om leerlinge positief te motiveer wanneer dit by leer kom.


  1. Huiswerk word onder toesig in klasverband gedoen en word nagegaan deur die toesighouer.
  2. Samewerking in die klaskamer is noodsaaklik sodat elke leerder ongehinderd kan leer en huiswerk doen.
  3. Geen selfone mag tydens huiswerktyd aangeskakel wees nie en mag slegs gebruik word om ouers te kontak in ‘n noodgeval. Sou u kind die reël verbreek sal die foon gekonfiskeer word en aan die einde van die dag aan die ouer terug besorg word. Dit geld vir horlosie fone ook.
  4. Geen skootrekenaars of tablette mag naskool toe gebring word nie.
  5. Alle boeke bly die eiendom van CP Naskool Akademie.
  6. Take moet asseblief tuis gedoen word.
  7. Alle boeke moet tuis oorgetrek word.
  8. Elke leerder moet hulle eie skryfbehoeftes voorsien en duidelik merk.
  9. Alle boeke, skryfbehoeftes wat die naskool aankoop en opvoedkundige speelgoed bly die eiendom van CP Naskool Akademie.
  10. Ouers bly steeds verantwoordelik vir tuis hersiening en kontrole, veral as u kind deelgeneem het aan buitemuurse aktiwiteite.



NASKOOLURE:


  1. Die naskoolsentrum sal gedurende skoolkwartale bedryf word vanaf 12:30 tot 17:30 en vakansies vanaf 7:15 tot 17:30.
  2. ‘n Boete ten bedrae van R50 per kwartier of gedeelte daarvan sal onmiddellik betaalbaar wees, indien die ouer versuim om die kind by die naskool af te haal voor 17:30 op enige dag. Laat weet asseblief telefonies indien u gaan laat wees.



BETALING VAN NASKOOL FOOIE:


  1. Naskool fooie vir 2021 beloop R1 500 per maand per kind.
  2. Alle fooie is streng vooruit betaalbaar voor of op die 4de van elke maand. 
  3. Indien ‘n maand se fooie nie betaal is nie, sal die betrokke leerling die naskool geweier word tot die maandelikse fooi betaal is. Geen uitsondering sal gemaak word nie. Die reël sal streng toegepas word sodat die naskool finansieël lewensvatbaar kan bly.
  4. U kan nie in Oktober maand kennis gee om Desember maand se fooie vry te spring nie.

 


VEILIGHEIDSMAATREELS:


  1. Die naskool moet telefonies of skriftelik in kennis gestel word as ‘n ander persoon u kind(ers) by die naskool kom afhaal. Spesiale reëlings vir op en aflaai van u kinders moet aan die naskoolhoof of juffrou deurgegee word telefonies, per SMS of WhatsApp. Geen persoon sal toegelaat word om ‘n leerder by die naskool af te haal sonder toestemming van die ouer/voog.
  2. Geen leerder mag die naskool terrein verlaat sonder toestemming van sy/haar naskooljuffrou of die naskoolhoof nie.
  3. Alle ouers of gemagtigde persone is self verantwoordelik vir hul kind(ers) vanaf die oomblik wat hulle uitgeteken word by die naskool.
  4. Die skool aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige beserings wat by die naskool opgedoen word nie.

 


HANTERING VAN PROBLEME:


  1. Ouers mag nie reg in hulle eie hande neem om enige ongelukkighede met ‘n kind op die skoolterrein uit te sorteer nie.
  2. Geen geskree en raas voor ander kinders sal geduld word nie.
  3. Geen ouer het die reg om enige personeellid voor ander mense aan te vat oor enige probleme wat sou opduik nie. Die probleem moet by die naskoolhoof aangemeld word en dan sal dit van daar af verder geneem word op ‘n gepaste wyse.

 


ALGEMEEN:


  1. Stel asseblief die naskool so spoedig as moontlik in kennis indien u kind nie die middag by die naskool gaan eet en/of die naskool gaan bywoon nie.
  2. Stel asseblief die naskool in kennis van die leerder se buitemuurse aktiwiteite.
  3. Geen speelgoed word toegelaat nie.
  4. Netheid en higiëne is belangrik en kinders moet aangespoor word om die fasiliteite skoon te hou.
  5. Tasse en persoonlike besittings is u kind/ers se eie verantwoordelikheid. Die naskool dra geen verantwoordelikheid vir die verlies of skade van tasse, klere, selfone en/of enige persoonlike besittings nie. 
  6. Besittings moet duidelik gemerk wees.
  7. Geen lekkernye en drinkgoed sal in die klasse toegelaat word nie.
  8. Geen troeteldiere mag naskool toe gebring word nie.
  9. Geen kougom word toegelaat nie.

 


MEDIESE SORG:


Geen medikasie sal aan enige leerder gegee word sonder die skriftelike toestemming van die ouer nie. Deur ondertekening van die Registrasie vorm, gee u toestemming dat indien een of albei ouers/voogde na vele pogings nie bereik kan word nie, CP Naskool Akademie ‘n ambulans op u koste kan ontbied aangesien ons personeel nie vrywarings magtiging het om u kind te vervoer nie.